The River Rafters Home The Orange River The Breede River The Doring River Teambuild and Conferences with the River Rafters Rates and Booking Procedures Get in Contact with the River Rafters Go to the Bundi Group Page
ORANGE RIVER
 
MEDIA EDITORIAL: WEG
 

WEG - Reisgenote en Gasheer

Om te reis is ’n fyn kuns. Die uitsoek van jou reisgenote is ’n nog fyner kuns, maar tog maak mens dikwels dieselfde foute oor en oor: nooi reisgenote saam wat jou naam aanhoudend deur die beeskraal sleep en neem aan dat gasvryheid in die toerismebedryf tuis hoort.

Moet sê, die mense van Clanwilliam lag seker nou nog in hul mou vir ons spektakel in die hoofstraat. So besluit ons dat terwyl Clanwilliam se mense ons so goed behandel (ons was daar om my prys vir die reisstorie in Wegbreek in Clanwilliam Lodge te geniet), ons ook die streek sal ondersteun. Koop toe by die Ramshoringslaghuis die allerlekkerste skaaprib en saaltjops om later op ons reis te braai, en sulke ordentlike vleis moet jy darem afsluk met iets anders as water. Ons eie voorraad rooiwyn vir die reis was diep tussen koerantpapier weggepak en ons eerste braai was sommer net om die draai. Dus na die bottelstoor vir noodvoorraad. Ek redekawel en gesels soos gewoonlik ’n pad tussen die bottels deur en die mannetjie agter die toonbank verseker my dat die boksie wyn met hul streek se naam skaflik sal afgaan.

“So sal die antie ons onthou en dan is daar niks gesukkel met die rondrollery van ’n botteltjie of twee nie,” vertel hy. En wie is die antie nou om te stry?


Ons laai die boksie agter by Jukkie, die Jack Russell en derde reisgenoot, wat teen dié tyd dikbek tussen die bagasie in die warm bakkie sit. Intussen gewaar my tweede reisgenoot en wederhelf ’n paar vroue wat sommer so op straat in die skadu van ’n boom roosterkoeke braai en verkoop. Dis mos nou behoorlike padkos, weet hy te vertel. Ons koop omtrent die vrou se hele voorraad roosterkoeke en selfvoldaan besluit ons om eers vir Jukkie vir ’n draai te neem en dan is ons reg vir die lang pad wat nog voorlê.

By die bakkie was daar pandemonium. Jukkie het behoorlik gatvol geraak van sit en wag, die boksie rooiwyn getakel, die kartonhouer in duisend stukke geskeur en die rollende sak wyn in die bakkie rondgejaag en vol gate gebyt. Dis net rooiwyn waar jy kyk en die hond is leepoog gelukkig. Jan red die oorblywende wyn in die sak en ek die rooi hond, want teen dié tyd was hy letterlik en figuurlik lankal nie meer homself nie. Glo my, om ’n glibberige, lekkende sak rooiwyn in ’n besige hoofstraat in ’n koelhouer met ’n klein bekkie te prop, is byna soos om ’n malvalekker in ’n posbus te druk. En toe die rooi, gesuipte hond wat ons intussen aan ’n byderhand vullisdrom vasgebind het, straat vat … daaroor sal ek liewer swyg.

By Abiqua, ’n kampeerplek langs die Oranjerivier aan die Namibiese kant en bekende en geliefde oorstaning van ons, arriveer ons oor die middaguur. Dit is ondraaglik warm en ons besluit om maar deur te druk, die tent op te slaan, af te pak en dan eers ’n lafenis op te soek. Jukkie draf baldadig op die groen gras rond. Dis immers sy derde besoek aan die kampeerplek. Een van die vroue van “Klippie uit die Kunene” figureer hier by Abiqua en vir ons is dit ook ’n terugloop op ou spore.

Ons het ’n nuwe tent en spook swetend en swetsend om dit staan te maak. Einde ten laaste staan die tent, is die bakkie afgepak en sit ons gemaklik in die skadu van die bome. Die Groot Gariep se rustige vloei kalmeer ons kokende gemoedere en Jukkie lê hygend platpens op die gras in die skadu van my stoel.
’n Tafereel van algehele ontspanning en vreedsaamheid.

En toe bars ons seepbel. Die eienaar het sedert die vorige jaar besluit dat honde nie meer welkom is nie. Ons moet pak. Ons verduidelik dat ons nie bewus was van die nuwe reëling nie, dat die hond op sy leiband sal bly, dat ons in elk geval net een nag oorstaan en dat ons nie ’n druppel krag meer oor het om die hele pakkaas weer op te pak nie, maar hy bly onverbiddelik. Dit is sy plek en hy besluit wie bly en wie waai en die Jack Russell waai.

Die gesegde van een deur wat toe gaan om ’n ander oop deur raak te sien, kry gestalte. Bra moedeloos pak ons gedwee op, ry terug op ons spore en draai by die volgende afdraai in. Die plek se naam is Bundi en is op die oog af nie baie belowend vir moeë reisigers nie, want dit is ’n miernes van bedrywigheid. Plate kano’s op die rivierwal en baie beslis ’n uithangplek vir jeugdige avontuursoekers.
Ek staan nader en val sommer met die deur in die huis. Ons het ’n hond as medereisiger, is gatlam van tent opslaan (en onvriendelike kampopsigters of -eienaars) en soek eintlik ’n onderdak oorstaning.

“As die oom en antie so ’n wyle daar bo in die skadu van die lapa vertoef, dan maak ek gou vir julle ’n huis klaar”, en met dié beduie die jeugdige eienaar na ’n halfvoltooide kliphuisie op die wal van die rivier waar werkers doenig is. Ek gaap soos ’n baber op droë grond. Die huisie lyk vir my nog redelik onbewoonbaar, maar die jongman organiseer vol vertroue sy hele werkerskorps op en beloof dat ons laatmiddag ons splinternuwe kamer kan betrek.

En dit was nie ’n leë belofte nie, want twintig voor vyf roep hy ons nader. Daar is nog nie gordyne voor die vensters nie, maar die water in die badkamer is warm, die beddens is splinternuut en kraakvars oorgetrek, en daar is ’n verweerde tafel met ketel, breekgoed, koffie, tee en suiker staangemaak. ’n Houer waarin die kanovaarders hul proviand op die bote vervoer, dien as tydelike vullisdrom. Daar is ’n rooster en hout voor die deur en hy verneem of hy vir ons ’n vuurtjie kan aanslaan.

Die huisie met nog rou sementstof, sonder ingeboude kaste en gordyne, maar met die ongelooflike uitsig oor die rivier, word vir ons ’n hoogtepunt van ons reis. Dit is ’n man soos dié wat reis die moeite werd maak, besluit ons. Iemand wat jy jare daarna nog onthou en van wie jy seker is dat hulle van enige toerismeverwante onderneming ’n reusesukses sal maak.
Bundi is ’n plek om te onthou en weer te besoek.